SUBSCRIBE TO OUR MAILING LIST

Enter your email address to subscribe to our weekly newsletter.

Die olifant én die mens is al lankal rug teen die muur

0

Hoeveel tyd het ons oor voordat Suid-Afrika se goed-bewaarde olifante in die spervuur van ivoorstroping kom? Gerrit Rautenbach kyk na ’n paar kommerwekkende feite.

Die feit dat Afrika se olifante teen ’n tempo van amper 100 per dag gestroop word, is nie iemand anders se krisis nie, dis joune. Dis ons almal se krisis.

Die groot fout wat baie mense maak is om te dink ons hier in Suid-Afrika is oukei, ons het mos derduisende olifante. Sommige mense gaan so ver om te sê daar’s te veel. Op die oomblik is ons olifantgetalle stabiel en stropingstatistiek lyk goed. Daarmee word bedoel daar is nie olifantstroping op die oomblik in Suid-Afrika nie. Maar hoekom word die renoster in Suid-Afrika dan so verwoed gestroop?

Omdat daar baie min renosters oor is in die res van Afrika. Met ander woorde, die dreigende gevaar vir olifante is al klaar werklikheid vir die renosters. Op die oomblik word die ivoor-swartmark nog gevoer met olifanttande uit lande waar daar nie soveel weerstand gebied word nie, waar die wetgewing slap is, die boetes min en waar die mense nie so goed toegerus is soos Suid-Afrika en Botswana nie. Lande soos  Kameroen, Kongo en Chad.

In die Zakouma Nasionale Park in Chad het 3 000 olifante in die laaste drie jaar verwyn. Daar is nie meer veel oor nie… ‘The only thing protecting Southern Africa’s elephants is East Africa’s elephants,’ is die waarste woorde van Doktor Iain Douglas-Hamilton, sekerlik die grootste Afrika-olifantkenner en die stigter van Save the Elephants.

Die rooi lig vir Suid-Afrika brand al hoe erger, want as jy gedink het die ivoorstropers is nog daar doer in die ver lande, dink weer. Moet ook nie vir ’n oomblik dink ’n renosterstroper is nie ook ’n olifantstroper nie. En die renosterstropers is klaar hier.

Een van die grusaamste en mees gewetenlose stroopmisdade het in Hwange Nasionale Park in ons buurstaat Zimbabwe in hierdie jaar gebeur. Die stropers het soutlekke met sianied vergiftig. Maar uiteraard is die sout en water nie net vir die olifante gereserveer nie. Die park se hele ekosisteem word bedreig met die vergiftiging van leeus, luiperds, sebras, wildebeeste, verskeie soorte bokke en sekondêre vergiftiging van aasdiere. Hiënas, jakkalse en veral aasvoëls soos die witrug-aasvoël wat alreeds ’n bedreigde spesie is, is afgemaai. Altesaam 103 olifante is daarmee heen in hierdie gru-daad. Dit was ’n domino-effek. Met domino’s gemaak van ivoor. Maar hoe kry die stropers dit reg? Wel, Hwange is 14 651 vierkante kilometer groot en daar is maar net 50 veldwagters wat moet keer. En sianied is nie soos ’n groot geweer nie; dit word maklik ingesmokkel.  

’n Baie belangrike punt is dat ’n mens moet besef sianied is ’n baie streng beheerde middel en kan omtrent nie bekom word nie. Die een uitsondering is die mynwese. In die afgelope paar jaar is ’n hand vol goudmynkonsessies in Zimbabwe toegestaan. Byna almal aan Chinese instansies.

Alhoewel daar geen konkrete bewyse is wat die sianied in Hwange verbind met enige mynbou-organisaie nie reken Gerhard Verdoorn, organiese chemikus, toksikoloog en adjunk-president van die Game Conservation Association dat die ‘kolonisasie van dele van Afrika’ deur die Chinese ’n situasie geskep het waar ‘’n groot hoeveelheid ongeregistreerde en onbeheerde Chinese plaagdoders en ander gifstowwe Afrika konstant binnekom sonder enige beheer.’

Hoekom is dit relevant? Omdat die oorgrote meerderheid van die ongeveer jaarlikse $10-biljoen onwettige gestroopte ivoor in China opeindig. Sedert dié land met sy 1,3 biljoen mense kapitalisme ontdek het, het hul middelklas ontplof. Ivoor was nog altyd ’n gesogte simbool van aansien, maar is nou ook ’n sterk beleggingsartikel. Almal wil dit hê. Ongeag die konsekwensies.

’n Ander moontlike plek waar stroping al hoe nader aan Suid-Afrika se olifante kom, is die oorgrensparke wat oor die laaste paar jaar ontwikkel het. Alhoewel die konsep ongelooflik goed is vir die bevordering van bewaring, veroorsaak dit aan die ander kant ook kwesbaarheid.

Die Krugerwildtuin is nou verbind met die Limpopo-oorgrenspark in Mosambiek en die Gonarezhou in Zimbabwe. Die probleem is dat die infrastrukture en hoeveelheid personeel in dié buurstate weer eens ontoereikend is om goeie weerstand teen stroping te bied. In Mosambiek word daar ten minste drie olifante ’n dag gestroop waarvan die owerhede weet. Dit kan baie meer wees. Wat nou gebeur is dat groot Kruger-bulle met bielietande wat jarelange beskerming geniet het, begin nou rondtrek tussen die verskillende gebiede. Hulle is die trofee wat gesoek word.

Wat is dit, hierdie ding met die mens wat nooit tevrede is nie? Wat nooit genoeg kan kry nie?

Gierigheid maak die mens onkeerbaar. Dis is ’n verslawing erger as heroïne. Soveel so dat die gierigaard vir niks sal stuit om meer en meer geld te maak nie. In 1980 was daar 1,2 miljoen olifante in Afrika. Vandag is skaars ’n derde oor en in die laaste jaar het 35 000 geval. En die prys van witgoud gaan net op en op. Dit draai nou al by $2 000 per kilogram. Vir wat? wonder ’n mens, want as jy alles gestroop het wat daar is en jy het al die geld in die wêreld, maar die wêreld het ’n dorre woestyn geword, wat gaan jy met al daai geld doen? Jy kan nie ’n dooie olifant se lewe terugkoop nie.

Op 2 Desember vanjaar het ’n noodberaad in Botswana begin waar staatshoofde, senior amptenare en nieregeringsorganisasies indringend kyk na wat gedoen kan word om onwettige ivoorhandel teen te werk. Tydens die opening het president Ian Khama van Botswana sielvol gepraat. ‘Africa’s human and natural resources have been pillaged and plundered for generations by people from far off lands. From slavery to archaeological artifacts, minerals, fauna and flora. The continent and its people have for so long been victims of other continents selfish interests. Human trafficking today is slavery. Minerals in some countries are being exploited and the people of the countries are not getting the full return or benefits.

‘And our elephant ivory and rhino horn are going to countries where they are used for God knows what. Only to satisfy ridiculous outdated beliefs whilst we remain with carcasses as proof we once owned these magnificent animals.’

Die olifant is 100% uitgelewer aan die mens, die hoogste vorm van intelligensie op aarde. Die probleem is dat daar basies twee soorte mense is. Aan die een kant dié vir wie die harmonie en balans tussen mens, dier en natuur saak maak en wat dit beskou as die ware vorm van rykdom. Aan die ander kant dié wat enigiets sal doen om meer materiële rykdom te bekom. Enigiets soos om die laaste olifant vrek te maak vir sy tande. En daardie dag is op pad.

Teen die tempo wat nou gehandhaaf word, is daar nog so tien jaar oor. As die proses nie nou gekeer word nie, is die olifant nie meer net met sy rug teen die muur nie. Dan is die skrif aan die muur.

Vir meer inligting en betrokkenheid: www.conservationaction.co.za

Share.

Leave A Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.