SUBSCRIBE TO OUR MAILING LIST

Enter your email address to subscribe to our weekly newsletter.

Dobbelstene van ivoor

0
Moet ons weet hoeveel olifante nog in Afrika oor is of moet ons probeer om die vraag na ivoor stop te sit? Gerrit Rautenbach kyk hoe daar met die voortbestaan van Afrika se olifante gedobbel word.

In Desember 2013 by die noodberaad oor die voortbestaan van Afrika se olifante het die International Union for the Conservation of Nature (IUCN) dit amptelik gestel het dat “een vyfde van Afrika se olifante vernietig kan word binne die volgende tien jaar teen die huidige tempo van stroping”.

Dis heelwaarskynlik ’n radikale onderskatting van wat regtig aangaan. Om tans te probeer vasstel hoeveel olifante daar in Afrika oor is, kan jy net sowel dobbelstene gooi. Maar dis maklik om te weet hoeveel olifante al gestroop is. Jy tel bloot die verrottende karkasse wat na die stroping van die tande agterbly. En daar is duisende.

Neem die Selous-ekosisteem in Tanzanië. Dis 49 664 vierkante kilometer groot en Afrika se grootste beskermde gebied wat Oos-Afrika se grootste getalle olifante huisves. In die vroeë 1970’s was daar meer as 100 000 olifante, maar na die laaste groot stropingkrisis in die laat 1980’s het die totaal na ongeveer 20 000 gedaal.

Na 1989 se wêreldwye ivoorhandelverbod het getalle herstel tot sowat 55 000 in 2007, waarna die stroping radikaal vermeerder het. Teen 2009 was daar rondom 39 000 oor. Die jongste raming is ’n skamele 13 084. Dis ’n ongehoorde afname van bykans 80 persent oor die laaste ses jaar. Die uitslag van die amptelike olifanttelling van Oktober 2013 in die Ruaha-Rungwa-streek in Tanzanië is nou aangekondig. In 2009 was daar 34 667 olifante en nou ’n geraamde 20 090 oor. Dit is ’n afname van 42,04% in net vier jaar. Tog, met die Selous-ekostelsel wat net 13 084 oor het, het Ruaha-Rungwa vir die eerste keer sedert rekord gehou word, die grootste getalle in Oos-Afrika. Hierdie getallefeite bevraagteken duidelik die IUCN se stelling tydens die noodberaad.

By die beraad is ook aangekondig dat Paul Allen van Microsoft $8 miljoen bewillig het om ’n formele lugtelling te doen. Dit is baie welkome nuus. Met hierdie inligting kan mens uitwerk hoe lank die olifante nog oor het voor hulle uitsterf teen die huidige stropingskoers. Jy kan jou kiestand teen ’n ton ivoor wed dat die tempo gaan versnel as niks drasties gebeur nie.

Dit sal ook uiters waardevolle inligting verskaf om te help om stroping beter te kan teenstaan. Want die enigste ding wat regtig ’n verskil gaan maak, is om die tempo van stroping te stuit. Om die aanvraag, behoefte en begeerte om ivoor te besit radikaal te verminder. Die kopers van die eindproduk moet opgevoed word dat die tragiese verwoesting van ’n formidabele dier nie die mooi gekerfde ornamente of armbande of wat ook al werd is nie.

Die oorgrote meerderheid ivoor eindig in China. Vandat hulle kapitalisme ontdek het, het ivoor een van die gewildste items geword wat hul besteebare inkomste kan opslurp. Of dit nou gekerfde beelde of rou tande as beleggings is, hulle koop voor die voet.

Op 6 Januarie het China vir die eerste keer onwettige ivoor in die openbaar vernietig. Dis dalk iets simbolies, maar ses ton is ongelukkig net ’n katspoegie. Maak gou die volgende som: hulle reken die gemiddelde olifanttand weeg sewe kilogram. Kom ons redeneer stropers mik altyd vir die grootste moontlike tande. Neem die gewig van ’n gestroopte olifant se twee tande dan as 20 kilogram. Dit beteken dié ses ton wat China nou vernietig het, verteenwoordig 300 olifante. Die Selous het 86 916 olifante verloor sedert 1970. Waar gaan dit heen?

Die probleem is verder dat Suider-Afrika se olifante, wat nou nog betreklik veilig is, se risiko daagliks vergroot. Op die oomblik maak die stropers een olifant elke 15 minute iewers in Afrika vrek. Dis 96 per dag. Teen dié tempo gaan ons olifante nie veilig bly nie. Mosambiek kry klaar kwaai pak. Daar word gereken 5 000 van Nyassa-provinsie in die noorde se 20 000 olifante het laas jaar verdwyn. In Hwange Nasionale Park is daar laas jaar 103 olifante met sianied vergiftig. Dis twee van Suid-Afrika se buurlande. Buurlande waar daar oorgrensparke gevorm is wat die hele Suider-Afrika se olifantbevolking kwesbaar maak. As ’n mens dit alles in ag neem, kan jy nie anders as om die IUCN se stelling in twyfel te trek nie.

Hopelik sal die komende vlugopname ’n beter idee skep van wat die bewaringswêreld nodig het om ivoorstroping te kan beveg. Dit is die mees algemene natuurmisdaad in Afrika.

Dis ’n misdaad wat die IUCN, die oudste en grootste omgewingsliggaam met 1 200 lede-organisasies – 300 regerings en 900 nieregerings – al lankal onder beheer moes gekry het. Veral as ’n mens die werk wat hulle vir CITES doen in ag neem. Dit is die IUCN se ontledings van bedreigde spesies wat bepaal op watter CITES-aanhangsels daardie spesie geplaas gaan word om letterlik daardeur ’n reddingsboei uit te gooi of om die spesie oorboord te gooi.

Kan die IUCN se stelling wat die olifantgetalle so onderbeklemtoon dalk meer te doen hê met die afgradering van olifante deurgaans tot ’n CITES-aanhangsel II? Daardeur word beperkte handeldryf in ivoor toegelaat.

Waarmee word hier gedobbel?

 

Share.

Leave A Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.