SUBSCRIBE TO OUR MAILING LIST

Enter your email address to subscribe to our weekly newsletter.

‘Mak’ jagluiperd is g’n troetel-cheetah

0
Talle jagluiperds word oor die land heen as toeristetrekpleister aangehou. Maar die getal aanvalle wat voorkom, wys hulle is minder mak as wat hierdie ‘cheetah-ervaring’-plekke ons wil wysmaak, skryf Don Pinnock.

Dis nie maklik om aan knaende joernaliste te verduidelik hoekom mak jagluiperds mense byt nie. Daarom beny ek Clarke Smith, woordvoerder van KwaCheetah, nie sy werk nie.

Op 6 Augustus is ’n twiet uitgestuur wat sê Aiden Fry, ’n leerling van Cowan House Preparatory School, is aan die skouer gebyt toe ’n jagluiperd by KwaCheetah teen die heining gespring en hom gegryp het. ’n Oproep na die skoolhoof, Rob Odell, het dit duidelik gemaak dié is nie bereid om oor die voorval te praat nie.

Vyf dae later, ná verdere navraag, was daar ’n verklaring van Smith, wat ook een van die direkteure is van die Nambiti-wildreservaat naby Ladysmith, waar KwaCheetah gehuisves word. Die verklaring lui dat die kat die seun se rug bygekom het, en hom gekrap en gebyt het. Die seun is behandel en is op die dag van die verklaring weer terug skool toe.

Luidens die verklaring het geen jagluiperd van die projek voorheen sulke gedrag getoon nie en kinders word nie in enige van die kampe toegelaat nie.

Volgens dr. Andrew Venter, wie se kind in dieselfde skool is, kan die mediese onkoste ná die voorval R200 000 beloop.

Maar dit eindig nie daar nie, sê hy. Die dag voordat die kind gebyt is, is ’n 73-jarige vrou, Glen Dixon, en haar kleinkind by KwaCheetah aangeval. Die vrou is teen die grond gegooi en aan haar arm en kop gebyt. Die kat se tande het haar skedel binnegedring.

Volgens haar seun, Brett, is haar heup gebreek toe sy geval het. Met die skryf hiervan, is sy in die hoësorgeenheid.

“Ons is natuurlik vreeslik bekommerd oor haar. Hierdie ding gaan haar lewe vir altyd verander,” sê Brett.

Daar is meer: Dit blyk dat nog ’n besoeker aan KwaCheetah, Lesley-Ann Marais op 28 Junie aan haar arm gebyt is met ’n interaksie met die katte. Sy moes steke kry.

Toe ek die voorvalle aan Smith noem, het hy ingestem dat die vroeëre verklaring ontoereikend was. Hy het ’n nuwe een uitgereik wat die feit ingesluit het van ’n “ouer dame wat omgegooi is deur dieselfde jagluiperd in die besig­tigingskamp”. Dit het ook genoem dat ’n “vroulike besoeker ’n krap aan haar arm en vlak bytmerke van ’n ander jagluiperd” opgedoen het.

Dié gedrag is, luidens die verklaring “strook glad nie met die aard van die betrokke jagluiperd en word ondersoek”. Die projek is ook nou gesluit terwyl die voorvalle bekyk word.

KwaCheetah het duidelik probleme met knabbelende jagluiperds en Smith is heldhaftig besig met skadebeheer.

Toe maak ’n kommerwekkende verslag oor ’n luiperd sy opwagting. ’n Informant wat nie haar naam genoem wil hê nie, het e-pos (met foto’s) aangestuur van ’n interaksie op die terrein.

“Ons was in 2012 by KwaCheetah met ons familie. Hulle het jagluiperds, rooikatte, tierboskatte en luiperds in die kampe gehad. Die luiperds en jagluiperds was op die oog af ongemaklik met al die besoekers.

“Die hanteerder was bekommerd oor die luiperd, so hy het ’n harnas soos vir ’n hond aan die kat gesit voordat hy mense ingenooi het om aan hom te raak.

“My familie wou nie ingaan nie, want hulle was bekommerd dat die kinders aangeval sou word. Die luiperd het herhaaldelik die hanteerder probeer bykom, en dié het hom met ’n kussing geslaan.

“Die dier het erger geraak en die hanteerder het die paartjies in die kamp gevra om te gaan. Die hanteerder was erg omgekrap deur die hele ding en hy het ons vertel hy was van plan om die volgende dag weg te gaan.

“Hy sê hy het sy base herhaaldelik vertel hy is ongelukkig met die situasie, maar hulle het gesê alles is in die haak en hy moet voortgaan om besoekers in die kamp te neem.”

Met ’n paar Google-soektogte het ’n YouTube-video aan die lig gekom van ’n jong toeris wat voor ’n jagluiperd uithardloop en ’n kartonboks sleep. Die titel van die video, gemaak deur die Amerikaner John Watson van Volunteer South Africa, is “Getting Chased by Cheetahs”.

“Dis ’n ervaring sonder gelyke,” sê hy. “Dis ’n plek waar vrywilligers met jagluiperds kan rondhang terwyl hulle in die natuur hervestig word.”

“Ek haat troetelplase,” sê Watson vir die kamera, “maar hierdie is ten bate van die diere. Dit gaan regtig daaroor om ’n verskil te maak.” En daar praat hy van KwaCheetah.

Hy was beslis nie daarvan bewus dat jagluiperds, soos alle roofdiere, geprogrammeer is om te jaag nie, en die verskil tussen ’n kartondoos en ’n sagte, pienk naelloper is bitter klein uit die oogpunt van ’n jagluiperd.

Volgens Smith se mediaverklaring is KwaCheetah in 2011 begin om bewaring van die bedreigde jagluiperds in Suider-Afrika te bevorder. Op hul webwerf skryf die eienaars “die hoofdoel is nie om jagluiperds aan dieretuine en soortgelyke plekke te verkoop nie, maar om die katte in die wildernis van Afrika te hervestig”.

Maar volgens ’n bron het KwaCheetah al die afgelope vier jaar nie die nodige permitte om jagluiperds aan te hou óf in die natuur te hervestig nie, al is dit kwansuis die hoofdoel van sy bestaan.

Die aanvalle het uiteindelik die KwaZulu-Natalse owerheid die afgelope week tot aksie aangespoor. Alle kommersiële bedrywighede op die terrein is stopgesit.

Ek het probeer om hieroor duidelikheid te kry by die eienaar van KwaCheetah, Rob le Seuer. Hy sê hy neem alle oproepe op, want hy wil nie hê woorde moet in sy mond gelê word nie en hy is allermins bereid om die kwessie te bespreek.

Om by al die regulasies oor interaksies met jagluiperd te hou, is ’n kopseer. Volgens die KwaZulu-Natalse standaardprosedure vir wilde diere in ’n rehabilitasiesentrum, mag die diere glad nie aan die publiek vertoon word nie en niemand behalwe personeellede mag met hulle in kontak kom nie.

Voorts mag geen dier langer aangehou word as wat absoluut nodig is om die dier in die natuur te hervestig nie. Diere mag nie ­fisiek in toom gehou word nie. “Geen kettings, toue of dergelike”, en geen huisdiere mag op die sentrum se terrein aangehou word nie. Op KwaCheetah se webwerf is daar verskeie foto’s van honde en ander huisdiere wat met die jagluiperds speel.

Help KwaCheetah dus, soos wat Watson aanvoer, regtig met bewaring?

’n Verslag deur die Trust vir ­Bedreigde Natuurlewe (EWT) laat dit nie so lyk nie. Twee wyfie-jagluiperds wat wild gebore is, is met die hand grootgemaak en toe teen sowat R400 000 deur die EWT en ’n vennoot “wild gemaak” (“re-wilded” is die term wat hulle gebruik). Hulle is toe aan Nambiti gegee om in die reservaat vrygelaat te word. ’n Mannetjie is ook teen sowat R100 000 gerehabiliteer en in die reservaat vrygelaat.

Volgens die EWT het hulle in Junie 2012 agtergekom dié drie jagluiperds word in werklikheid in aanhouding gehou. Die verslag lui: “Mnr. Le Sueur het glo die jagluiperds vanaf Nambiti gebring, waarvan hy mede-eienaar is. Die jagluiperds en hul kleintjies word aangehou vir geldelike gewin. Die rede is dat leeus hulle in die reservaat bedreig. Die huidige permitstelsel in KwaZulu-Natal laat nie toe dat wilde diere na aanhouding verplaas word nie.”

Kelly Marnewick, EWT se bestuurder van roofdier-bewaring, sê die aanvalle verbaas haar glad nie. “Geen wilde jagluiperd het nog mense aangeval nie. Maar jagluiperds in aanhouding kan baie gevaarlik wees omdat hulle hul vrees vir mense verloor het,” sê sy.

Die onlangse dokumentêr Blood Lions laat geen twyfel oor die verband tussen troetelplase vir kleintjies en die uiteindelike dood van leeus in geblikte jag en die verkoop van hul bene vir Chinese “tierbeenwyn” nie.

Jagluiperds wat in aanhouding geteel is, volg ’n ander lewenspad, minder grusaam, maar word net soveel uitgebuit. Anders as leeus, is jagluiperds betreklik maklik om mak te maak (hoewel onmoontlik om tot troeteldier te maak) en dit maak hulle aantreklik vir menslike interaksie.

Die konvensie oor die interna­sionale handel in bedreigde spesies (Cites) klassifiseer jagluiperds as ’n hoogs bedreigde spesie.

Daar is minder as 1 000 jagluiperds in Suid-Afrika oor, met ’n paar honderd wat aangehou word in 79 aanhoudingsplekke. Aanhouding en teel geskied onder die vaandel van bewaring en opvoeding. Die publiek word vertel die jagluiperds sal weer vrygelaat word of dat teling die spesie ­terugbring van die rand van uitwissing.

Volgens Marnewick is daar bitter min sentrums wat regstreeks betrokke is by bewaringswerk wat ’n voordeel inhou vir die oorblywende wilde jagluiperds. Die res het slegs waarde as “opvoedvermaak”. Rehabilitasie behels dat diere vinnig deur die sentrum ­beweeg sonder enige kontak met toeriste of vrywilligers.

Jagluiperds in aanhouding bring geld in vir hul eienaars. Dit kos sowat R300 vir ’n volwasse ­besoeker om ’n paar minute met een deur te bring en buitelandse vrywilligers betaal tot $2 000 per week om te “help rehabiliteer”. Hulle hou gereeld aan om te ­betaal om “hul” jagluiperd te voer lank nadat hulle terug huis toe is.

“Daar’s geen bewaringsnood om jagluiperds in aanhouding te teel nie. Dit het geen invloed op die werklike bedreiging nie: jag, ’n gebrek aan ruimte en verkope aan aanhoudingsplekke. Dié ‘rehabilitasiesentrums’ kan ook ­bewaring skade aandoen deur genetiese wanbestuur (inteling),” sê sy.

Om jagluiperds as toeriste-lokaas te gebruik, is volgens haar oneties en die teenoorgestelde van bewaring. “Die meeste van hierdie plekke moet gesluit word.”

Die KwaZulu-Natalse owerheid en KwaCheetah sit nou met ’n tameletjie. As die sentrum nie ’n permit kan bekom om jagluiperds in die natuur te hervestig nie, hoe kan hy sy voortbestaan as “rehabilitasiesentrum” regverdig?

En as hulle dié permit kry, hoe kan hulle dit regverdig om jagluiperds wat in aanhouding geteel is, in die natuur vry te laat as dit skadelik is vir die bewaring van jagluiperds?

 

Share.

Comments are closed.