SUBSCRIBE TO OUR MAILING LIST

Enter your email address to subscribe to our weekly newsletter.

Onthou die olifante

0

Regoor die wereld vier mense wat omgee op 12 Augustus die vader van die aarde se diere, die olifant. ‘n Eeu terug was daar vier miljoen in Afrika en Asie. Hierdie syfer is nou tussen 420 000 en 658 000, en daal verder.

Vir eeue reeds het mense ‘n gevoel van samesyn met hierdie enorme grys diere. Olifante is die enigste gediertes behalwe mense wat geboortes vier en sterftes betreur. Hulle trompetter met plesier wanneer ‘n kalfie gebore word en liefkoos die bene van dooie olifante wyl hulle klaarblyklik diep in gedagte is.

In Indië word hulle aanbid as die god Ganesh. In Afrika se sprokiesverhale is die olifant altyd die wyse leier wat twis tussen die wouddiere uitklaar. Hulle pronk op die nasionale vlae van Siam, Laos en die Ivoorkus.

In Zoeloe-tradisie is die Indhlovu (olifant) stam die linie van hoofkapteine. En wanneer die Ashanti van Ghana ‘n dooie olifant in die woud vind, gee hulle die dier die begrafnis van ‘n stamhoof.

Dit mag moontlik hierdie respek vir olifante wees wat aanvanklik ivoor so gesog en duur gemaak het. Maar in die moderne wereld met nywerheid en hoë-kaliber wapens het hebsug en begeerte die oorhand oor respek gekry. Elke uur val vier olifante aan die hand van stropers.

Die meeste ivoor gaan na China. Maar ‘n onlangse studie deur HorizonKey in die stede van Sjanghai, Beijing en Guangzjou het gevind dat sewe uit tien Chinese nie weet ivoor is afkomstig van dooie olifante nie.

Dis bekend gemaak dat meer as die helfte van daardie mense wat wel weet onder die indruk is dat stroping ongereeld plaasvind, terwyl ‘n derde glo ivoor kom van olifante wat aan natuurlike oorsake dood is. Wat hulle nie sal erken nie – in ag genome die oertydse Chinese aktitwiteit van ivoor-kerf –  is dat, volgens die World Wildlife Fund for Nature, omtrent 30 000 Afrika-olifante jaarliks van hule ivoor gestroop word.

‘Die bewyse is glashelder,’ lui ‘n WWF-verslag wat vroeer vanjaar vrygestel is. ‘China dra die grootste verantwoordelikheid vir die stropingskrisis tog skuil dit agter ‘n fasade van ontkenning.’

Daar is ‘n algemene misverstand – wat ondersteun word deur diegene wat ‘n wins maak uit  ivoorverkope – dat daar te veel olifante in Afrika is en dus hul omgewing beskadig. Intensiewe navorsing deur organisasies soos Elephants Without Borders het gevind dat olifantgetalle hulself stabiliseer en dit daarom onnodig is om hul getalle te verlaag om hul habitatte te beskerm.

Voorstanders van inmenging in olifantbevolkings beweer hulle affekteer biodiversiteit deur bome om te stoot. Maar hierdie aspek vorm deel van die natuurlike verhouding tussen die woud en grasvelde en sonder olifante sou die bome die kosvoorraad van grasvreters oorweldig. In die Nasionale Krugerwildtuin het die doodmaak van olifante geen positiewe of negatiewe effek op die planteryk nie.

Die wettige handeldryf van ivoor het ernstige nagevolge vir olifante. In 1989, na twee dekades waarin die planeet se olifantbevolking gehalveer het het die VSA ‘n eensydige verbod op die invoer van ivoor ingestel. Kort daarna het die International Convention on International Trade in Endangered Species of Fauna and Flora (CITES) gevolg. Agt jaar later, na druk deur Suid-Afrika, Zimbabwe, Namibie en Botswana, het CITES olifantbeskerming bestempel as minder van ‘n belang. Daar was ‘n verkoop van ivoorvoorrade deur hierdie lande. In 2008 is nog so ‘n verkoping goedgekeur.

Die verslae Making a Killing deur die International Fund for Animal Welfare (IFAW) en Blood Ivory deur die Environmental Investigation Agency (EIA) het die kollig geplaas op hoe tragies hierdie besluite was om handel te verwettig. Sedert die verkopings het stroping tot op so ‘n punt toegeneem dat die toekoms van olifante in gedrang is (die aantal Sentraal-Afrika-woudolifante het gedaal met 62 persent sedert 2002).

Volgens die verslae het die verkopings verwarring onder verbruikers in China veroorsaak. Hulle het begin dink ivoorhandel was wettig, wat uiteindelik die integriteit van die verbod aangetas het.

‘Die bedoeling was om soveel wettige ivoor in die mark te stoot dat die prys sou daal. Ongelukkig het die teenoorgestelde plaasgevind. Die uitvoer van wettige ivoor na China het aanvraag aangevuur, pryse opgestoot en ‘n grysmark geskep waar wettige ivoor geleenthede geskep het vir onwettige ivoor om verkoop te word.’

Van die 158 handelswinkels en kerffabrieke wat deur IFAW besoek is, was 101 ongelisensieerd. Daar was drie onwettige winkels vir elke wettige verkooppunt. Slegs 57 het lisensies gehad, oftewel 36 persent. En nagenoeg 60 persent van die wettige plekke het onwettige bedrywe gehad.

‘n Gebrek aan sterk polisiering, tesame met lae prioriteit in die regstelsel, maak dat ivoorhandel in China ‘n hoë-wins, lae-risiko aktiwiteit is. Verkope is sterk.

Omdat olifantgetalle daal, word ivoor gesien as ‘n belegging. Om ivoor te besit of as geskenk te gee is ‘n teken van status. Die eienaar van ‘n kerffabriek in Fuzhou het aan IFAW-navorsers gese dat, hoe hoog ook al die pryse van hul ivoorprodukte, daar genoeg kopers is wat ivoor aanskaf as ‘witgoud’.

Die vloei van gestroopte ivoor vind deesdae nuwe roetes. Soos Beijing sy beleggings in Afrika vermeerder, bereik Chinese burgers (werkers, sakemense en besoekers) nuwe dele van die kontinent. Baie van hulle raak betrokke by onwettige ivoorhandel.

Kenia, Suid-Afrika en Mosambiek gesprekke hou gereeld samesprekings oor bewaring en die oorlog teen stropers. By die COP 16-vergadering in Bangkok vroeer vanjaar het CITES ingestem om stappe te neem teen Kenia, China, Maleisie, die Fillipyne, Thailand, Uganda, Tanzanië en Vietnam, lande wat nie genoeg doen om ivoorhandel stop te sit nie. Ongelukkig het hulle almal sanksies vrygespring na die inhandiging van aksieplanne en China en Tanzanië het ingestem om hul teen ‘n sekere datum daartoe te verbind.

Dis ‘n begin, maar planne gaan nie ‘n einde bring tot die slagting nie. Soos stropers se gewere hul dodelike werk doen, word die toekoms van olifante meer en meer duister. In ‘n poging om meer mense van die krisis bewus te maak, gaan daar ‘n hulpkreet uit: Ivoor Behoort aan Olifante. Moenie dit koop nie. Die alternatief is ondenkbaar: uitsterwing.

Share.

Leave A Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.