SUBSCRIBE TO OUR MAILING LIST

Enter your email address to subscribe to our weekly newsletter.

Aas uitgesit sodat jagter ‘regte leeu’ kry

0

Umbabat het op advies van die Mpumalanga toerisme-en parkagentskap (Mtpa) aas uitgesit sodat die jagter die “regte leeu” kon jag. Dié organisasie het ook die jagpermit uitgereik.

Só het Lenny Wilson, voorsitter van Umbabat, Donderdag gesê.

Volgens Wilson wou Umbabat seker maak dat ‘n ou leeu, wat nie meer deel van ‘n trop is nie, gejag word. “Ons het geweet dit is ‘n sensitiewe kwessie en ons wil nie ‘n hele ekostelsel ontwrig nie.

Wilson het, oor dié omstrede jagtog gesê, kort voordat die jagtog plaasgevind het, is ‘n foto uitgereik van “‘n spesifieke leeu” ( vermoedelik Skye), wat nie gejag moes word nie. Dit is aan die Amerikaanse jagter en die professionele jagter, wat hom sou vergesel het, gegee sodat hulle dié leeu kon vermy.

Wilson het gesê die leeu wat toe wel gejag is, was beslis nie deel van ‘n trop nie en was minstens 8 jaar en ses maande oud. “Dit was dus ‘n ou leeu.”

Bewaringsbewustes sukkel nou al vir byna 3 weke om uit te vind watter leeu gejag is. Hulle vermoed dat Skye wel die slagoffer was, omdat hy kort voor die jagtog op 8 Junie laas gesien is.

Skye is ‘n jong leeu van sowat 6 jaar oud. Hy is die leier van ‘n trop wat uit verskeie wyfies en welpies bestaan.

Die Mtpa weier om die jagpermit aan die bewaringsorganisasies, EMS en Ban Animal Trading (Bat) te oorhandig. Die organisasie weier ook om die identiteit van die Amerikaanse jagter bekend te maak.

Die Mtpa weier voorts dat Michele Pickover van EMS en Smaragda Louw van Bat toegang kry toe die leeuvel wat tans glo by ‘n taksidermis in Witrivier gehou word. Pickover en Louw wil die leeuvel ondersoek om vas te stel of dit wel Skye is wat gejag is. Skye het baie duidelike merke aan sy regterflank.

Pickover het intussen ‘n aansoek ingevolge die Wet op die toegang tot inligting (paja) teen die Mtpa gebring waarin sy verskeie indringende vrae oor die jagtog stel.

Wilson het Donderdag gesê die leeujag het nou onnodig in ‘n groot kwessie ontaard. Umbabat word ook nou gedurig gekap omdat daar op dié reservaat, waar diere heen en weer vanaf die Krugerwildtuin loop, gejag word.

“Ons het ‘n sakeonderneming om te bedryf. Ons moet stropers hier weghou en om te te doen, moet ons diere teen ‘n hoë prys laat jag. Die geld wat ons só inkry, is om ons bedryfskoste te kan dek. “Ons moet mense (waaronder werkers en toeriste) teen stropers beskerm. Jag is ons inkomste.”

Volgens hom is daar baie ander reservate wat ook ‘n inkomste uit jag verdien om by te dra tot sy bewaringsdoelwitte.

Intussen loop die gemoedere binne Umbabat hoog oor die jagtery en dring hulle by die Krugerwildtuin aan op antwoorde.

In ‘n e-pos wat in Netwerk24  se besit is, dreig Glenn Phillips, uitvoerende bestuurder: toerisme en bemarking, dat die heining tussen Umbabat en die Krugerwildtuin weer opgerig sal word as dié reservaat (Umbabat) nie sy huishoudelike probleme oplos nie.

Isaac Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, het gesê dit is oneties om aas vir ‘n dier uit te sit. Hy het gesê daar is so baie leeus in die omgewing van die private natuurreservate wat aan die wildtuin se westekant grens, dat dit onmoontlik is om vas te stel watter leeu gejag is.

Volgens Wilson is daar ‘n baie bestuursplan tussen die wildtuin en die private natuurreservate, wat saam as die  APNR bekend is, gesluit toe die heining destyds verwyder is.

Die bewaringsorganisasies dring nou ook daarop aan dat dié bestuursplan onderwerp word aan hersiening en ‘n openbare deelnameproses.

Comments are closed.