SUBSCRIBE TO OUR MAILING LIST

Enter your email address to subscribe to our weekly newsletter.

Raad sal kyk of beroemde Skye gejag is

0

Die raad van die Ingwelala natuurreservaat en sy lede “staan saam” en sal “alles in hul vermoë doen” om die identiteit vas te stel van die leeumannetjie wat op 7 Junie deur ‘n Amerikaner gejag is.

Die raad, waarvan die voorsitter en die lid vir omgewing en bewaring skielik verlede week te midde van “woede” oor die leeujagtog bedank het, het tydens ‘n vergadering einde verlede week “eenparig” besluit om vas te stel of dit die beroemde mannetjie, Skye is, wat gejag is.

Die jagtog, wat deur die groter reservaat, Umbabat wat ook aan die Krugerwildtuin grens, gereël is, het woede by sowel toeriste as omgewingsorganisasies ontketen.

Umbabat se raad weier om die leeu se identiteit bekend te maak en die vel aan die bewaringsorganisasies, Ban Animal Trading en EMS te oorhandig sodat hulle kan vasstel of dit Skye is wat doodgeskiet is.

Die Amerikaner het na verneem word R1miljoen vir die leeujag betaal.

In die notule van die vergadering, wat in Netwerk24 se besit is, sê die vise-voorsitter, vermoedelik Andrew Haupfleisch, daar het verlede week “woede” losgebars tussen lede van Ingwelala en “die raad” oor dié “hoogs emosionele” kwessie van die leeujag.

Luidens die notule is Ingwelala een van die “baie” eiendomme wat deel is van Umbabat, wat op sy beurt deel is van die Association of Private Nature Reserves (APNR).

Al vyf lede van die APNR het “dekades gelede” ‘n protokol met SANParke aangegaan om diere wat oor die grens stap, met ‘n wettige permit te jag. Die heining tussen dié natuurreservate in private besit, is rondom 1993 laat sak en ‘n sogenaamde “ooreenkoms” oor die jag van wild wat vanaf die Krugerwildtuin na die reservate loop, is gesluit.

“Lede van Ingwelala het destyds besluit géén jag sal op sy eiendom toegelaat word nie.” Hierdie besluit geld steeds,” lui die notule.

In die notule word lede van Ingwelala oor die kole gehaal oor hul (mis-)gebruik van sosiale media wat vermoedelik ook verband hou met die leeujag omdat dit die reputasie van dié eiendomme binne Umbabat en die groter APNR.

Skye is die leier van ‘n leeutrop waarvan drie welpies deel is.

Volgens Charlie Lynam, fotograaf wat gereeld foto’s van Skye geneem het, is dié leeumannetjie  11 dae laas op 7 Junie, die dag van die leeujag gesien.

Lynam het Sondag ‘n reeks foto’s van Skye op Twitter geplaas en gesê hy doen dit “ter nagedagtenis” van hierdie leeu wat geliefd onder besoekers en lede van Ingwelala was.

Johan Eksteen, bestuurder wetenskaplike dienste by die Mpumalanga toerisme-en parkagentskap (Mtpa) wat die jagpermit uitgereik het, het Donderdag beloof om Netwerk24 se vrae voor 16:00 te beantwoord. Geen antwoord is ontvang nie.

Michele Pickover van EMS het gesê mense wat by die Mtpa werk, moet besef hule is staatsamptenare en dat hulle aan die burgerlike gemeenskap verantwoording moet doen. “Ons betaal hul salarisse, het sy gesê.

Sommige belanghebbendes wat aan Netwerk24 bekend is, maar wat anoniem wil bly, het gevra dat Eksteen bedank.

Intussen het Kevin Alborough, voorsitter van die Ingwelala natuurreservaat, wat uitgesproke teen die leeujag gekant was, Donderdag skielik bedank.

Kort na hom het Bruce Simpson, raadslid belas met omgewing en bewaring ook sy bedanking ingedien.

Lees die volledige artikel: https://www.netwerk24.com/Nuus/Omgewing/raad-sal-kyk-of-beroemde-skye-gejag-is-20180617

Comments are closed.