Renosterplan skok

0

Minister onverskillig en slu, sê drukgroepe

Enigiemand sal voortaan twee renosterhorings “vir persoonlike doeleindes” mag landuit neem as voorgenome regulasies van die regering wet word.

Bewaringsorganisasies het met skok gereageer op dié plan wat Edna Molewa, minister van omgewingsake, Woensdag in die Staatskoerant aangekondig het.

Hulle sê dit maak die deur “wawyd” oop vir renosterboere om internasionaal met die dier se horing handel te dryf. Verskeie organisasies het daarop gewys dat dié aankondiging “onverwags” gekom het, veral omdat Molewa en twee renosterboere sedert Oktober 2015 in ’n reeks hofgedinge betrokke is oor die binnelandse handel in renosterhoring.  Die regering wag boonop nog vir ’n uitspraak deur die konstitusionele hof in hierdie geding.

Die nieregeringsorganisasie Save our Rhino (SoR) sê hy gaan Molewa by die konvensie vir die handel op bedreigde fauna en flora (Cites) verkla omdat geen internasionale handel met enige liggaamsdeel van ’n renoster mag plaasvind nie. 

Luidens die voorgenome regulasies mag elke Suid-Afrikaner, maar ook buitelanders, twee renosterhorings “vir persoonlike doeleindes uitvoer”. ’n Permit is hiervoor nodig. Die renosterhoring mag net deur die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg “uitgevoer” word.

Allison Thomson, stigter van Outraged South African Citizens Against Poaching (Oscap), sê dié aankondiging is “uiters onverskillig” en is ’n bewys van die regering en die renosterbedryf se “gulsigheid”. 

Sy het daarop gewys die regulasies is oop vir interpretasie. Soos dit nou daar staan, kan “elke mens op aarde” kort-kort vir ’n permit aansoek doen en twee renosterhorings landuit neem. Die voorgenome regulasies stel geen tydperke waarbinne enigiemand twee renosterhorings landuit mag vat nie. 

Gerhard Smit, stigter van Aikona!, het hierdie onverwagse voorgenome regulasies as “ ’n skande” bestempel. Hy sê dit is duidelik Molewa het geswig onder die druk van die renostereienaars. 

“Sy het seker gehoop ons sien dit nie raak nie.” 

Hy het Molewa se tydsberekening as “slu” bestempel.

Volgens hom kan die regering groot openbare weerstand teen hierdie voorgenome regulasies verwag. Die bewaringsorganisasies was dit eens dat dit “sinneloos” is om binnelandse handel in renosterhoring te wettig en meen hierdie dokument is ’n rookskerm vir internasionale handel om te begin.

Izak du Toit, regsverteenwoordiger van die renosterboer John Hume, het Molewa geprys vir “haar besonderse insig” en haar pogings om die bedryf te reguleer. 

“Die minister het uiteindelik haar werk reg gedoen. Hoe gouer mense besef dat ’n bedreigde spesie net bewaar kan word as daar ’n geldwaarde daaraan geheg word, hoe beter. 

“Die dae van die paradys toe diere vry rondgeloop het en slegs ’n waarde in ’n ekostelsel gehad het, is verby.” Thomson sê Oscap gaan beslis kapsie maak teen die voorgenome regulasies. 

“Ons hoop dit beteken iets, want die regering het nou al oor en oor bewys dat hy ons tyd mors. Die departement van omgewingsake doen in elk geval net wat hy wil.”

Die voorgenome regulasies bepaal ook:

Renosterhorings wat “uitgevoer” word, moet van ’n mikroskyfie voorsien word en die naam en adres van die “invoerder” moet verskaf word wanneer aansoek gedoen word vir ’n uitvoerpermit.

Die omtrek van die basis van die renosterhoring moet aan die regering verskaf word, asook die lengte en die gewig van die horing.

Geen renosterhoring mag in ’n gepoeierde vorm landuit geneem word nie omdat dit monitering bemoeilik.

Johan Kruger en John Hume het Molewa hof toe geneem omdat hulle haar wou oorreed om die moratorium op die binnelandse handel in renosterhoring, wat sedert 2009 geld, op te hef. 

Molewa het al die hofsake verloor en haar in Junie verlede jaar na die konstitusionele hof gewend.

Die departement van omgewingsake sê hy sal later ’n verklaring uitreik om alle onduidelikhede oor die voorgenome regulasies uitgeklaar te kry.

Belanghebbendes het tot 10 Maart kans om op die dokument kommentaar te lewer. 

Mense wat beswaar wil maak teen die inhoud van die dokument kan e-pos stuur aan mboshoff@environment.gov.za. 

Comments are closed.