Weier permit vir skiet van olifant

0

Friends of the Kruger Tuskers, ’n koalisie van omgewingsbewustes van oor die wêreld heen, het ’n ope brief aan Sanparke en die omgewingsdepartemente van Mpumalanga en Limpopo geskryf waarin hulle versoek dat die Timbavati-natuurreservaat ’n jagpermit vir die skiet van ’n trofee-olifant geweier word.

Die koalisie skryf in die brief die Krugerwildtuin, wat aan Timbavati grens, is een van die laaste vestings van olifante met groot tande en hulle vra ook presidensiële beskerming vir hulle. 

Bryan Havemann, hoofveldwagter van die Timbavati-natuurreservaat, word in die brief aangehaal dat hy sou gesê het dié reservaat teiken nie een van die olifante met die grootste tande nie, maar wel ’n olifantbul wat ouer as 50 jaar is.

Hy het gesê ’n 50-jarige olifant het die vermoë verloor om sy kos deeglik te kou. 

Hy meen as die olifant in elk geval (binnekort) van natuurlike oorsake sou doodgaan, die geld wat deur jag verdien word, in bewaring teruggeploeg kan word. 

Die koalisie stem nie saam nie.  Die koalisie sê hulle kan Havemann se stellings weerlê op grond van wetenskaplike navorsing in die Amboseli-natuurreservaat in Kenia. 

’n Olifantbul van ouer as 60 jaar is in die fleur van sy lewe, kan nog aktief teel en speel ’n kritieke rol binne ’n trop. 

Met sy kennis van die ekologie is hy die leermeester van jonger bulle. 

Volgens die koalisie besoek baie toeriste die private natuurreservate wat aan die wildtuin grens. 

Hulle betaal groot bedrae om wild te besigtig. Die meeste van hulle is nie daarvan bewus dat hulle die reservaat deel met trofeejagters nie. 

Hulle is onbewus daarvan dat hulle moontlik die een dag ’n dier bewonder en dat hy die volgende dag moontlik ter wille van “sport” doodgeskiet sal word.

Die ondertekenaars van die brief wys ook daarop dat olifantstropery in die Krugerwildtuin toeneem. 
“Olifantgetalle het reeds dwarsoor Afrika in duie gestort weens konflik tussen mens en dier, stropery en habitatverlies. 

“Om nou toe te laat dat ’n trofee-olifant gejag word, druis in teen gesonde verstand. 

“Dit het tyd geword om ’n veilige toekoms vir olifante te verseker, daarom vra die koalisie presidensiële beskerming vir die wildtuin se groot olifantbulle.” 

Teen Donderdagmiddag het meer as 2 000 mense ’n versoekskrif geteken dat pres. Jacob Zuma hom verbind tot die beskerming van die Krugerwildtuin se olifantbulle.

Die ope brief is onderteken deur mense in Suid-Afrika, Europa, Kenia en Noord-Amerika. 

Die versoekskrif kan hier gevind word:  bit.ly/olifante 

Read original article: https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20170325/281840053495820

Comments are closed.